Ons Skool
Ons Wapen & Simboliek
Drie sye
Dit stel die leerder, ouer en personeel as ‘n span voor.
Son
Dit dui op die verbintenis met Pionierskool – “Laat daar lig wees” is die leuse van Pionierskool. (Langerugskool was ‘n afdeling van Pionierskool tot aan die einde van 2014.)
Boek
Dit verteenwoordig die akademie.
Duif
Dit dui op die ideaal om – met die nodige ondersteuning – te “vlieg”, oftewel individuele potensiaal te verwesenlik.
Skild
Dit stel beskerming voor.
Skoollied
Aan die voet van die Brandwachtberge in die Breëriviervallei,
lê ‘n skool met vaste waardes, wat ons kinders voorberei
vir die uitdagings van môre, en om storms te ontwyk …
elke leerder se potensiaal ten volle te bereik.
Waar ons saam kan leer van omgee, respek en te vertrou –
doelgerig en hande vat en ‘n nuwe wêreld bou.
Langerugskool, ons hartsimbool,
ons ridderskild en rots,
ons ewige fondasie, beskerming en ons trots.
Waar die hoop ons nooit beskaam nie
en die waarheid maak ons vry.
Die beste skool vir jou en my in die mooiste mooi vallei.
Die beste skool vir jou en my in die mooiste mooi vallei.
Musiek en liriek: Johan Groenewald 2015
Geskiedenis
Langerugskool het ontstaan uit ‘n afdeling vir leerders met leerhindernisse by die Pionierskool vir Siggestremdes op Worcester. Om hul getalle aan te vul, het Pionierskool reeds vanaf 1994 leerders met leerhindernisse toegelaat. Die betoog was dat hulle sou kon baat by die onderrig wat aan swaksiende leerders gebied word.
Die leerders met leerhindernisse is aanvanklik saam met swaksiende leerders in klasse op die Langerugkampus onderrig, terwyl blinde leerders op die sentrale kampus van die Pionierskool skoolgegaan het.
In 1998 is personeel besnoei, en moes daar ‘n herindeling gemaak word. Daar is besluit om die hoërskool op die Langerugkampus te vestig, en die laerskool op die Sentrale Kampus.
Die blinde en swaksiende leerders in die hoërskool, asook diegene met leerhindernisse, is toe na die Langerugkampus oorgeplaas. Daar is gepoog om die blinde leerders in aparte klasse te onderrig, maar soms het dit gebeur dat al drie groepe in een klas geakkommodeer moes word. Op die sentrale kampus is al drie groepe laerskoolleerders geakkommodeer, meestal in aparte klasse.
Sedert 2011 was daar toenemend sprake van aparte onderrig vir leerders met leerhindernisse, sodat die fokus weer 100% op die eiesoortige behoeftes van die blinde en swaksiende leerders geplaas kon word. Op 1 Januarie 2015 is Langerugskool vir leerders met spesifieke leerhindernisse geopen. Die naam “Langerugskool” is gekies omdat die Langerugkampus al bekend was vir onderrig aan leerders met leerhindernisse.
Vanweë ‘n tekort aan fasiliteite en skole in die Worcester-omgewing vir leerders op die Outisme-spektrum, het die Skoolbeheerliggaam besluit om ‘n afdeling vir Outisme by die Langerugskool te begin. Navorsing is by verskeie skole en afdelings vir leerders met Outisme gedoen. In Oktober 2016 is die eerste leerders in die Outisme-afdeling van Langerugskool toegelaat.