Skip to main content

ASD-Afdeling

Langerugskool

Outisme-afdeling

Die Outisme-afdeling akkommodeer leerders met Outisme. Hierdie afdeling volg nie die KABV-kurrikulum nie. Leerders ontvang onderrig op grond van Individuele Ondersteuningsplanne (IOP’s). Dit beteken dat leerders onderrig en ondersteun word volgens individuele vlakke van funksionering.

Individuele Ondersteuningsplanne

By Langerugskool se Outisme-afdeling word leerders ondersteun en ontvang hul onderrig op grond van ‘n Individuele Ondersteuningsplan (IOP).
  • Onderrig in klasverband wissel van akademie tot vaardighede volgens belangstelling en funksioneringsvlak.
  • Elke leerder volg sy/haar eie IOP (Individuele Ondersteuningsplan).
  • Daar word spesifiek gefokus op die aanleer van sosiale vaardighede.
  • Selfhelp en lewensvaardighede is deel van die ondersteuningsplanne.
  • Positiewe kommunikasie tussen ouers en die opvoeder geniet prioriteit.
  • Maksimum voordeel word geput weens kleiner klasgroepe – maksimum nege – met hulpverlening deur ‘n assistent.
  • Onderrig vind een-tot-een plaas, asook gesamentlik tydens groepsaktiwiteite.
  • Die leeromgewing is gestruktureerd.
  • ‘n Streng roetine word gevolg.
  • ‘n Afkoelperiode en sensoriese breke word toegelaat wanneer `n leerder dit nodig het.

Aansoeke

Al die aansoeke na Langerugskool word via die Departement van Onderwys se verwysingsisteem gedoen.
U moet dus soos volg te werk gaan:
1

Maak `n afspraak met u kind se klasonderwyser/skoolhoof en verduidelik dat u graag wil hȇ dat die skool u kind na Langerugskool verwys. Neem afskrifte van alle verslae wat u van `n kind het saam.
2

Die moontlike verwysing word dan deur die skool se SGOS bespreek.
3

Die SGOS van die skool kontak dan die betrokke DGOS van die distrikskantoor. Die DGOS (sielkundige, leerondersteuner en/of maatskaplike werker) sal dan die skool besoek en die SGOS ondersteun met die moontlike aansoek en nodige assesserings indien van toepassing.
4

Aansoeke vir die Outisme-afdeling (Individuele Ondersteuningsplanne) word deur die Kaapse Wynland Distrikskantoor na Langerugskool gestuur om op die skool se databasis geplaas te word. Plasing in die Outisme-afdeling is onderhewig aan `n observasietydperk en ook plek in `n bepaalde klas. Die ouers word deur die skool gekontak sodra `n Outisme-uitreikspan van die Departement van Onderwys `n observasie kan kom doen en daar plek is vir nuwe plasings. Die voornemende leerders word dan by `n siftingsvergadering voorgelê en die ouers word daarna deur die skool gekontak om die bepaalde uitkoms te bespreek.

Indien u kind nie tans in `n skool is nie en/of tuisonderrig ontvang, moet u asseblief kontak maak met die GLOO-afdeling van die Kaapse Wynland Distrikskantoor. U kan die Kaapse Wynland Distrikskantoor kontak by 023 348 4600 om met die Hoof van die GLOO-komponent of Senior Sielkundige in verband hiermee te gesels.

Kriteria vir toelating

  • ‘n Diagnose van outisme is nodig.
  • Die leerder moet van skoolpligtige ouderdom wees.
  • Die leerder moet oor ‘n gevestigde toiletroetine beskik.
  • Die leerder moet met ‘n mate van onafhanklikheid kan funksioneer, en hy/sy moenie ‘n bedreiging inhou vir hom- of haarself, of wanneer daar met ‘n ander persoon in interaksie getree word nie.
  • Die leerder moet geen uitermatig destruktiewe optrede of gedrag openbaar nie.
  • Hy/sy moet in staat wees om in ‘n groep te funksioneer.
  • Nabootsingsvaardighede is noodsaaklik.
  • ‘n Sekere mate van intrinsieke motivering is noodsaaklik.
  • Die leerder moet oor die potensiaal beskik om baat te vind by die individuele ondersteuningsplan en -program wat deur die skool aangebied word.
  • Leerders tussen ouderdomme 12 jaar tot 16 jaar sal slegs oorweeg word indien hul reeds in `n skool is.
  • Onderhewig aan die beleid van Langerugskool.
Praktiese faktore, eie aan die omstandighede van die skool, moet in ag geneem word by die toelating van leerders.
Dit sluit die volgende in:
  • Personeelvoorsiening in die skool;
  • Redelikerwys ruimte (klaskamer), fasiliteite en ander hulpbronne om die leerder te akkommodeer en in sy/haar opvoedkundige behoeftes te voldoen.

Besoek gerus ook die volgende afdelings